Wilhelm Jordaan 23 April 2006 Deel 1 van 2 dele
Ek lei vanoggend se gesprek in met die kollig op 'n diskursiewe benadering tot die Sielkunde van Godsdiens en sal poog om dit ook van toepassing te maak op die Afrikaanse wêreld. In my diskursiewe ontleding wyk ek ietwat af van die tradisionele Godsdiens-sielkundige benaderings wat meer psigodinamies ingestel is op godsdiensbelewenisse en -praktyke. Om my aanbieding te volg, het ek vier diagramme aan u uitgedeel. Ek sal u aandag, waar nodig, daarop vestig.
In Diagram 1 is daar 'n kort omskrywing van wat diskursiewe praktyke behels. Lees dit aandagtig deur. In die blokkie net daarnaas 'n algemene vraag wat mens help om diskursiewe praktyke te orden en te ontleed. Lees dit eers.
Diagram 1
Laat ek die impak en toepaslikheid daarvan onmiddellik illustreer met 'n gedig: VDM (Verbi Dei Ministri)
Uit herderlike plig
en vir geloofwaardigheid
swoeg preker by sy sinne
predikate in.
Met sweet rojaal
spoeg hy kwistig oor ons
voldonge hel;
onvervalste waarheid;
ontwyfelbare geloof;
kerklike gesag.
Niemand glo hom nie
hy is ongeloof waardig
Ek herhaal weer: wie sê wat; aan wie; hoe; in watter konteks; met watter effek? Hieruit weet/vermoed u opeens wat 'n diskoers is; hoe dit van buite kom en na binne gaan; en weer na buite ensoverderaan.
Kyk nou na die groot buitesirkel (Diagram 2). Hier word die buitediskoers aangedui – 'n doelbewus ongeordende versameling items/temas/idees/name wat elk 'n soort diskoers verteenwoordig. Laat u oë daaroor dwaal en u sal gunstelingtemas, ander bekende, maar ook minder of onbekende temas, teëkom.
Diagram 2
Waarom so ongeorden en chaoties? Die buitediskoers verteenwoordig 'n see van inligting, of 'n wêreld van woorde (diskoerse), waaraan ons onderwerp word. Daar is selfs 'n plek vir grappe, want hulle is belangrike diskoerse! Soos die volgende enetjie te kenne gee:
Die juffrou in 'n multikulturele klassie sê die kinders aan om elkeen iets skool toe te bring wat vir hulle 'n simbool is van hul godsdiens. 'n Katolieke dogtertjie bring 'n bedesnoer; 'n Joodse seuntjie bring sy "yarmulka"; 'n Moslem-seuntjie 'n gebedsmatjie. 'n Afrikaanse dogtertjie bring ook iets wat sy agter haar rug hou. Gevra wat dit is, wys sy dit en sê:" Juffrou, hier's die pan waarmee ons pannekoeke vir die kerkbasaar bak."
<!--pagebreak-->
In die kleiner binnesirkel is die binnediskoers – die ervarings, die praat met die self – ten aansien van die diskoerse waaraan mense onderwerp word. Die tweerigtingpyltjies van buite na binne, en van binne na buite, dui die interaksie aan. Buitediskoerse voed binnediskoerse; en andersom.
Vir die doeleindes van my argument word die binnediskoers gedikteer deur drie vorme van weet, of kognitiewe style, aangedui as empiries, rasionalisties en metafories.
Die veronderstelling is dat dié style onderlê word deur die unieke biopsigiese apparaat wat elke mens het – persoonlikheid; temperament; ekstrinsieke en/of intrinsieke motivering; intelligensie; komplekse; angste; emosionaliteit; moraliteitsontwikkeling – al die dinge wat dikwels in die tradisionele en veelal empiriese Godsdiens-sielkunde gebruik word om mense se godsdienstige belewenisse en praktyke te beskryf en te verklaar.
Iets meer oor die kognitiewe style, of vorme van weet:
Elk verteenwoordig 'n soort "bril" of "lens" waarmee jy die inligting rondom diskoerse waarneem, interpreteer en evalueer.
Die empiriese kognitiewe styl fokus op die "feitestatus" van diskoerse; die betroubaarheid van feite en die afleidings wat daaruit gemaak kan word. Die aanwending van die empiriese styl wissel op ‘n kontinuum van swak ontwikkel tot sterk ontwikkel.
'n Swak ontwikkelde styl kan byvoorbeeld verwys na mense wat parasiteer op hoorsê, skinderstories en andersins twyfelagtige bronne, maar wat aan hulle oningeligte opvattings die status van onweerlegbare feite en waarheid gee. In 'n sterk ontwikkelde styl word daar op die beste moontlike betroubare data en afleidings gefokus.
Die rasionalistiese weter is veelal geïnteresseerd in die logiese opbou van argumente; die wyse waarop premisse wat ingebed is in die diskoerse aangewend word om tot 'n geldige gevolgtrekking te kom. Ook dié styl wissel op 'n kontinuum van swak ontwikkel tot sterk ontwikkel. Soos ons al te goed weet, is daar mense wat eenvoudig nie 'n argument kan volg of bou nie, terwyl ander weer fyn redeneerders is vir wie geregverdigde afleidings in haas alle dinge van die grootste belang is.
Dié twee vorme van weet was/is uiteraard sterk vennote in 'n enigsins modernistiese wêreldbeeld. Dink hier aan Karl Popper se idees oor die verifikasie en falsifikasie van waargenome feite en die soort argumente wat daaromheen geweef word – soos die modus ponens en modus tollens.
Die metaforiese weter is veelal ingestel op die intuïtiewe, oorwegend gevoelsmatige, validering van die eie subjektiewe ervarings wat verband hou met omramende diskoerse – soos wanneer Sheila Cussons in die gedig "Besoeking" sê:
Daar het so pas 'n engel
deur my kop gegaan
terwyl ek op my rug gedink-lê het:
'n straal versekering: ek is nie vergeet nie.
Roerloos verras wil ek nie roer nie,
En verder nie dink nie, net vashou:
Solank ek dit kán, sal ék kan hou
Of wanneer my kleinkind van sewe ná 'n kerkdiens sê: "Toe die dominee gebid het, het ek gevoel ek is op 'n bootjie in die see en Jesus is met my."
Dit herinner ook sterk aan hoe mense in 'n premoderne wêreld hul ervarings probeer valideer het – deur beelde, stories, verhale, anekdotes. Natuurlik doen ons dit vandag nog met mindere of meerdere effek in films, stories, dramas, preke, skilderye, liedere ensovoorts.
Ook in hierdie geval wissel mense in die aanwending van die metaforiese styl op 'n kontinuum van swak na sterk ontwikkeling. En, terloops, laat ons nie die krag en waarde van metaforiese weet in byvoorbeeld suiwer wetenskap onderskat nie. Faraday, byvoorbeeld, het 'n godsdiensmetafoor aangewend om elektromagnetiese verskynsels te ondersoek en daaruit is die elektromagneet later ontwikkel.
Dit is belangrik om te onthou dat mense - deur hul eiesoortige biopsigiese samestelling, opleiding/opvoeding en lewensondervinding – neig om aan bepaalde styl voorkeur te gee tot die uitsluiting, of mindere aanwending, van ander. Meer bepaald, byvoorbeeld, is dit dikwels die geval dat sterk onwikkelde empiriese en rasionalistiese weters onderontwikkelde metaforiese weters is. En natuurlik ook andersom.
Tog, by sommige mense, word aldrie style gebruik na gelang van omstandighede; met baie permutasies en kombinasies.
'n Mooi parallel vir die ontwikkeling en samevoeging van die vorme van weet, kry mens in Frederik van Eden se roman "De Kleine Johannes":
Windekind is die jong kind wat onbekommerd deur velde vol blomme hardloop; na die wind luister en met feëtjies gesels (metafories weet). Windekind-wêreld word algaande, soos Windekind ouer word, Wistik-wêreld – om oor alles vrae te vra en dinge uit te pluis soos Wistik en ene Pluizer dit doen. Dan kom Dr Cijfer by wat aan alles wat bedink kan word die eis van wetenskaplikheid en kwantifisering stel. Wistik, Pluizer en Dr. Cijfer verteenwoordig die empiriese en rasionalistiese kognitiewe style. Maar uiteindelik, as Johannes 'n jong man is, word al hierdie dinge vir hom saamgevoeg in die vraag: Wat gee beslag aan jou lewe? Vir hom is dit die droom, die rede en die liefde wat van mense heel mense kan maak.
<!--pagebreak-->
Veel van ons diskursiewe misverstande - onder andere oor godsdienssake - is dat ons nie altyd rekening hou met verskille in dié verband nie. Dikwels is dit ook 'n geval dat ons nie juis bewus is van die styl(e) wat ons by voorkeur gebruik nie.
Nog 'n belangrike punt is dat dié kognitiewe style ons ook selektief ingestel hou op die buitediskoerse van ons leefwêreld. Dit laat jou fokus op daardie elemente in ‘n diskoers wat onder die loep van jou voorkeur kognitiewe styl gebring kan word. Dink byvoorbeeld na oor die verskillende maniere waarop empiriese, rasionalistiese en metaforiese weters met die buitediskoers oor 'n "God-kol" in die brein kan omgaan in hul binnediskoerse.
Maar die belangriker deel van my bydrae tot ons gesprek lê nie in die voorafgaande kort, erg vereenvoudigde, verduideliking nie. Dit gaan eintlik oor die gedeelte wat verband hou met Diagram 3 hier onder:
Diagram 3
Dit is godsdienstige ontwikkeling as die produk van buite/binnediskoerse – meer bepaald in die Afrikaanse wêreld:
Dit is belangrik om die vier "elemente" in Diagram 3 te verstaan as 'n nie-liniêre proses. Wat sê, dit is nie "fases" wat "wetmatig" van "links na regs" loop nie. Dit is eerder punktuasies wat rekursief op mekaar kan inkantel – sodat mens dikwels 'n vermenging van die verskillende punktuasies kan kry. Vandaar die idee van vele kombinasies en permutasies.
Verstarring en blinde goedgelowigheid
Kom ons sê dit heel eerste: Naïewe blinde goedgelowigheid – soos mens dit by 'n kind op 'n bepaalde vlak van kognitiewe ontwikkeling kry – is 'n essensiële en bekoorlike element in godsdienstige ontwikkeling. 'n Mens weerspreek tog nie 'n kind se spontaan-opwellende, kinderlike godsdienstige opvattings en uitings nie. Jy bring nie nuanses en korreksies aan wanneer ‘n kind nie gereed daarvoor is nie.
Waaroor dit nou hier gaan, is daardie soort blinde goedgelowigheid wat ingeklee is in 'n dogmatiese, voorskriftelike gewaad; wat ontwerp word deur volwassenes; en wat opgedwing word juis wanneer 'n kind begin vrae vra - wanneer konflik en twyfel intree as 'n funksie van normale intelligensie-ontwikkeling. (Onthou: Wistik/ Pluizer/ Dr. Cijfer).
Meer spesifiek gebeur dit wanneer die omramende buitediskoers nie geduld het met konflik en twyfel nie – terwyl dit juis gestel kan word dat 'n lewende, ontwikkelende godsdiens noodsaaklikerwys geslyp en gevorm moet word in die werkwinkel van konflik en twyfel. Gebeur dit nie, raak blinde goedgelowigheid 'n gevaarlike godsdienstige praktyk – soos 'n versplinterde riet wat jou in die hand steek as jy daarop wil leun. Maar dit, vir eers, daar gelaat.
Kom ons sê dit dan meteens: Veel van die Afrikaanse wêreld (of dan Afrikaner-wêreld) se godsdienstige denke en praktyk word gekenmerk deur verstarring en blinde goedgelowigheid in die formaat van ontwyfelbare dogma – histories en vandag nog. Natuurlik is dit nie iets eie aan die Afrikaanse wêreld nie. Dit is tog 'n wêreldwye verskynsel; met 'n verskeidenheid verwante toeskrywings – fundamentalisme (van die sagter en venynige soorte); fanatisisme, tirannieke geloof; en wat genoem kan word "a generalised closed-mindedness towards life".
Tog is daar unieke faktore (of dan buitediskoerse) wat aan die Afrikaner (as individue en as groep) se godsdiensbelewenisse en -praktyke beslag gegee het – histories gesproke vanaf ongeveer die 1880's tot die 1980's, en ook daarna.
Ek wil dit opsom deur te sê dat Afrikaanse mense onderwerp is aan ten minste vier soorte diskoerse – eerstens, dié van 'n verburgerlikte godsdiens; tweedens, verknoeide Calvinisme met die idee van krag in isolasie; derdens die diskoers van vertikaalgerigte piëtisme; en vierdens die diskoers van "verletterliking" wat 'n hermeneutiese vakuum geskep het wat betref 'n kontekstuele benadering tot Bybelteksbetekenisse (vgl. die Du Plessis-saak van die 1930's).
Saam het hierdie faktore die deursnee Afrikaner in 'n byna hermeties verseëlde spirituele kapsule geplaas en 'n teologie van vrees en bewing geskep wat vandag nog sy rammelinge het. Teen dié agtergrond is die deursnee Afrikaner-huis se godsdienstigheid gekenmerk deur onkritiese goedgelowigheid; ondersteun deur 'n geneigdheid tot dogmatiese wettiesheid, muggiesiftery en moralisering.
<!--pagebreak-->
Hieruit ontstaan 'n soort "kasplant"-godsdiens waaroor die digter Louis Eksteen (let wel: in 1967) 'n gelyknamige gedig geskryf het. 'n Gedig waarvan die "kasplant-" beeld duidelik spreek: iets wat binne gehou word; nie veel son sien nie en kunsmatig gevoed word om te vergoed vir dit wat natuurlikerwys die voeding sou wees.
Ek weet goed, baie goed
hoe ek opgevoed is.
(Verskoon die eerste persoon
maar dit sorg vir 'n persoonlike toon.)
Nou, soos ek sê:
ek, en die ander van my geslag,
moes bang wees vir God,
vir ons ouers, die onderwysers,
die predikant, almal wat
oor ons gestel is: die owerheid in toto.
Vir die busse vir die trems
vir vuilsiekte en die Bantoe
vir Johannesburg, vir heidens,
en vir die gewone verkoue.
vir die drank en die musiek
veral vir Jazz
vir omtrent al wat boek is
vir die dagblad vir die Sondagblad
vir die geel gevaar, die swartgevaar
vir die Jood wat smous
vir kapitalis vir arbeider
vir Duitser
Amerikaner
en – veral –
die Engelsman.
Die Jode floreer
Die Franse hoereer
Die Duitsers beheer
Die Amerikaners oordonder
en die Ingelse oorheers
imperialiseer.
Ai, en ja, hoe bang moes ek nie is
vir die kommunis.
vir vrymesselaars
vir sosialis
vir die sons- en maansverduistering
vir besmetting van 'n wond
vir jou liggaam as hy gesond is.
Bang vir die water
Bang vir die son
Bang vir die reën ook
En bang vir die bom.
Bang vir my bang vir jou bang vir hom.
Vir die suidewind en haelstorms
vir harde reën en sagte stuif
vir nat voete
en vir seks.
Verskoon die persoonlike toon
maar dis hoe ek opgevoed is.
U kan stellig vra: Maar het dinge sedertdien nie verander nie? Ja en nee. Die Boetman-debat van so vier jaar gelede het duidelik teen die godsdiens van vrees en bewing geprotesteer, maar terselfdertyd was daar in bepaalde kringe die apploudering van dié soort godsdiens as 'n instrument tot oorlewing van die steeds bedreigde Afrikaner.
Kyk maar ook wat in hedendaagse diskursiewe praktyke gebeur (in briewe aan koerante, populêre artikels en inbelprogramme op die radio) sodra andersoortige godsdienstige of teologiese geluide gemaak word – soos nou met die Evangelie van Judas en voorheen met die Evangelie van Thomas. En wanneer daar nuwe vrae gestel word oor ou kwessies soos erfsonde, Christus se geboorte uit 'n maagd, sy liggaamlike opstanding uit die dood en die posisie en waarde van ander soorte godsdienste.
Maar só 'n vreesgedrewe godsdiens het 'n hoë sielkundige prys – soos onder andere psigoanalitiese en ander ontledings aantoon in die konteks van realiteitsangs, morele angs en neurotiese angs. Hierdie soorte angs word dan terselfdertyd die voedingsbron van verstarrende godsdienstigheid.
Wat doen dit aan mense? Ek noem 'n paar dinge:
Dit isoleer jou van 'n veranderende wêreld terwyl jy die illusie van "geen verandering" vertroetel.
Dit verhinder gesprek, of debat, tussen oueres en jongeres wanneer twyfelvrae ontstaan en teenstrydighede bespeur word tussen dít wat jy glo en dit wat werklik aan't gebeur is. Daarmee saam kom die monster van 'n "generasiegaping" – die oueres wat trefseker weet wat hulle weet en die jongeres wat swyg met ‘n oplaaiende, ingekeerde frustrasie en woede.
Vrees dryf die liefde uit, of vervorm dit tot voorwaardes: net as jy sus en só maak, verdien jy my liefde en agting. Daaruit kom onverdraagsaamheid wat jou verhinder om te sien deur die oë van ‘n ander; te hoor deur die oor van ‘n ander en te voel deur die hart van 'n ander.
<!--pagebreak-->
Vrees lê lewenskreatieiteit aan bande, want kreatiwiteit veronderstel juis dat jy buite bekende ruimtes beweeg – van "kasplant" na "vol-in-die-son-plant."
Vrees plaas die fokus op menslike swakheid, sonde en skuldgevoel eerder as op die ontwikkeling van menslike potensiaal en 'n onderskeidende morele bewussyn. Gevolglik verwag ons eerder die slegste van onsself en ander, en maak ons dit ook waar van onsself en van ander. Dit word 'n selfvervullende profesie.
Sink hierdie dinge by jou in, staan een ding vas: Vrees voed onverdraagsaamheid vir idees wat anders en vreemd en nuut is; en daarmee ook vir die mense wat anders is. Op die aard van verdraagaamheid in godsdienstige verband kom ek later terug.
Konflik en twyfel
Ek het reeds vroeër gesê konflik en twyfel, in die konteks van godsdiens, is die werkwinkel van 'n ontwikkelende, lewende godsdiens. Volgens E.D. Starbuck is twyfel die natuurlike erfenis van jongmense; wat natuurlik fout is. Twyfel en konflik kan die "natuurlike erfenis" van alle mense op alle ouderdomme wees – gegewe 'n vlak van kognitiewe ontwikkeling waar dinge geweeg kán en wíl word. Dit gebeur wanneer mens begin nadink, soos Wistik, oor die dinge wat jou vertel is en teenstrydighede ervaar – soos dié versie dit sê:
Toe ek 'n kind was
het ek gedog
die dinge is maar so
maar noudat ek 'n man geword het
weet ek
dit is dogmadinge
wat mens doodmaak
binne
Maar terselfdertyd is konflik en twyfel 'n positiewe krag – soos die katolieke priester Monsignor Quichote dit sê in Graham Greene se gelyknamige roman: "I am riddled by doubts. I am sure of nothing, not even the existence of God, but doubt is not treachery…Doubt is human. Oh, I want to believe that it is all true – and that want is the only certain thing I feel…"
Dit is juis hierdie "want" - hierdie diepste wens waarvan ons priester praat - wat te midde van twyfel en konflik godsdiensbesinning wakker hou, en wat tot ontwikkeling kan lei.
Daar is baie maniere waarop daar in godsdiensverband sielkundig na konflik en twyfel gekyk kan word. Gegewe my benadering oor buite- en binnediskoerse kan mens met vrug die sielkundige teorie van kognitiewe dissonansie gebruik om die aard van twyfel en konflik en hoe mense dit hanteer, beter te begryp.
Kyk na Diagram 4 waar die basiese vertrekpunte van dié teorie aan die hand van voorbeelde verduidelik word:
Diagram 4