Sakkie Spangenberg
21 Januarie 2007
“It is time to move Christianity beyond that historically inaccurate and psychologically damaging definition of humanity that has resulted in a constant denigration of human life as helpless, depraved, sinful, and in need of divine rescue.” (John Shelby Spong)
1 Augustinus die grondlegger
Wanneer ons oor die tradisionele Christelike mensbeskouing praat, kan ons nie anders as om kennis te neem van die sienings van Augustinus (354–430) nie. Hierdie kerkvader se lees en verstaan van Genesis 1–3 vorm die grondslag van die tradisionele Christelike mensbeskouing. Volgens hom het God aanvanklik 'n perfekte wêreld geskep. Binne hierdie perfekte wêreld was die mens die toppunt of kroon. Die mens is immers laaste geskep (Gen 1:26–27) en het die opdrag gekry om oor alles te heers (Gen 1:28). Wat die mens (man en vrou) verder besonders maak, is die feit dat God hulle "na sy beeld" geskep het. Mense is dus afbeeldings van God. Volgens die tradisionele Christelike mensbeskouing (gebasser op die lees van Genesis 1) is die mens:
Hiermee word heelwat positiewe dinge oor die mens gesê. Kyk ons egter na mense dan blyk dit dat daar êrens fout moes gegaan het. Mense doen allerlei bose dinge. Hulle vertoon nie meer ondubbelsinnig God se beeld nie. Waar het die fout ingesluip? Die fout het ingesluip toe die eerste man en vrou die duiwel vatkans in hulle lewe gegee het. Ons lees hiervan in Genesis 2–3. God het aan die mens 'n proefgebod gegee. Hy wou hulle lojaliteit as ’t ware toets. Hulle kon van alle bome se vrugte in die tuin van Eden eet behalwe die boom wat in die middel van die tuin gestaan het. Indien hulle eendag daarvan sou eet, sou hulle sterf. Ons ken die verhaal en die afloop daarvan — of liewer ons ken Augustinus se vertolking van die verhaal. Volgens hom was Adam en Eva ongehoorsaam aan God en dit het ernstige gevolge ingehou. Dit het nie alleen hulle verhouding met God versteur nie — hulle was ook die beeld van God kwyt. Hulle was nou sondaars wat van toe af sondige kinders voortgebring het. Alle mense erf nou 'n sondige natuur van hulle voorouers. Hulle is immers besmet met die "virus" bekend as die erfsonde. Guido de Bres verwoord hierdie gedagte soos volg in artikel 15 van die Nederlandse Geloofsbelydenis (opgestel in 1561):
Ons glo dat deur die ongehoorsaamheid van Adam die erfsonde uitgebrei het oor die ganse menslike geslag. Dit is ’n verdorwenheid van die hele natuur en ’n erflike gebrek waarmee die klein kinders selfs in die moederskoot besmet is en wat in die mens allerhande sondes voortbring, omdat dit in hom soos ’n wortel daarvan is; dit is daarom so lelik en gruwelik voor God dat dit genoegsaam is om die menslike geslag te verdoem. Ook word dit selfs deur die doop nie geheel en al uitgeroei nie ....
Hier is die Heidelbergse Kategismus (opgestel in 1563) se verwoording daarvan:
Vraag 7: Waar kom hierdie verdorwe aard van die mens dan vandaan?
Antwoord: Uit die val en ongehoorsaamheid van ons eerste voorouers, Adam en Eva, in die paradys, waar ons natuur so bederwe is dat ons almal in sonde ontvang en gebore word.
Die Dordtse Sinode (1618–1619) bespreek hierdie kwessie in die derde leerstuk:
Die mens is van die begin af na die beeld van God geskape, versierd in sy verstand met ware en salige kennis van sy Skepper en van ander geestelike sake; in sy wil en sy hart met geregtigheid en in al sy geneenthede met suiwerheid; sodat hy dus heeltemal heilig was. Maar toe hy deur die ingewing van die duiwel en deur sy eie vrye wil van God afgewyk het, het hy homself van hierdie uitnemende gawes beroof; en hy het daarenteen in die plek daarvan oor homself gebring blindheid, verskriklike duisternis, ydelheid en verkeerdheid van oordeel in sy verstand; boosheid, wederspannigheid en hardheid in sy wil en sy hart, sowel as onsuiwerheid in al sy geneenthede.
Net soos die mens ná die val gewees het, was ook die kinders wat hy voortgebring het: hy het as verdorwene verdorwe kinders voortgebring; sodat die verdorwenheid, volgens die regverdige oordeel van God, van Adam op al sy nakomelinge — Christus alleen uitgesonderd — oorgegaan het, nie deur navolging soos eertyds die Pelagiane beweer het nie, maar deur voortplanting van die verdorwe natuur.
Volgens Phlip Theron (2005:578) het die kerk met die leerstuk van die erfsonde slegs maar Paulus nagepraat. “Op die vraag ‘sê wie?’, het Augustinus, die Reformatore, en die kerklike belydenis, op grond van God se openbaring van Homself en onsself in die Gekruisigde, geantwoord: God sê so” (Therron 2005:578). Hy hou geensins rekening met die feit dat Augustinus, die Reformatore en vele ander latere teoloë Genesis 1–3 en Paulus se uitsprake in Romeine 5–8 verkeerd gelees en geïnterpreteer het nie.
2 Pelagius en Julian van Ecclanum
Aldrie die bostaande gereformeerde belydenisskrifte volg die sienings van Augustinus klakkeloos na. Pelagius, 'n Britse teoloog en tydgenoot van Augustinus, het sy sienings egter teengestaan en beklemtoon dat daar nie iets soos erfsonde bestaan nie. Babas word nie as sondaars gebore nie, maar hulle doen uit vrye wil die verkeerde wanneer hulle groter word, het hy betoog. Vandag weet ons dat Pelagius se siening meer in lyn is met hoe die Bybel sonde voorhou. In die woorde van Cas Labuschagne: "In de bijbelse zondeleer staat centraal dat de mens niet zondigt door wat hij krachtens zijn geboorte is, maar door wat hij tijdens zijn leven doet, door de (foute) keuzes die hij maakt" (1994:129). Vergelyk ook Cees den Heyer se uitspraak: "In de oudtestamentisch-joodse traditie doet de mens zonde, terwijl in de christelijke traditie de gedachte van erfzonde ertoe heeft geleid dat de mens van nature een zondaar is" (2003:238).
In die jaar 415 het 'n hewige teologiese stryd oor die kwessie van erfsonde uitgebreek. Dit was duidelik dat die Christendom in twee kampe verdeel was: Augustiniane teenoor Pelagiane. Augustinus se sienings het triomfeer en Pelagius en sy volgelinge is by twee sinodes in Noord-Afrika veroordeel. Dis deels te verstane, want Augustinus was biskop in Noord-Afrika en het sy invloed deeglik laat geld. Maar dit was nie die einde nie. Op 'n stadium het daar onrus in Rome uitgebreek tussen die voorstanders van die siening van Augustinus en voorstanders van die siening van Pelagius. Keiser Honorius het in 'n edik die Pelagiane veroordeel en hulle Rome belet (April 418). Soos voorheen (onthou keiser Konstantyn en die belydenis van Nicea) was dit 'n Romeinse keiser wat tussenbeide getree en 'n teologiese dispuut in die Christendom beëindig het.
Maar dit was nie net Pelagius wat Augustinus se sienings bestry het nie, daar was ook die Italiaanse biskop Julian van Ecclanum. Hy het Augustinus daarop gewys dat sy standpunt benede peil is. Richard Sorabji is van mening dat Pelagius en Julian van Ecclanum die filosofiese argument gewen het, maar Augustinus die politieke een. Hy vervolg verder en sê dan: “If Pelagius had prevailed on this [seksuele begeerte is nie sondig nie] and more generally on original sin, a British theologian would have been at the centre of western theology, and western attitudes to sexuality, and to much else besides, might have been very different” (aangehaal in Freeman 2003:416).
3 Die sondeval se gevolge
Uit die voorafgaande behoort dit duidelik te wees dat die tradisionele Christelike mensbeskouing wel positiewe elemente bevat, maar dat die positiewe elemente ondermyn word deur wat oor die sondeval geglo word. Mense is na die sondeval:
In die tradisionele Christelike mensbeskouing word voorts uiters negatief na vroue gekyk. Hulle is na regte slegter mense as mans. Eva was immers verantwoordelik dat Adam in sonde geval het. Klaarblyklik is Augustinus deur die volgende woorde van Jesus Sirag (’n apokriewe wysheidsgeskrif uit die jaar 180 vC) beïnvloed: “Deur ’n vrou het die ongeregtigheid begin, en omrede van haar moet elkeen van ons sterwe” (Sirag 24:33 [25:24]). Augustinus het die idee dat erfsonde via die seksdaad oorgedra word in die Christendom ingedra. Hy het selfs so ver gegaan deur te sê dat seksuele begeerte (libido) as sodanig sondig is. Jesus moes daarom uit 'n maagd gebore word sodat sy nie seksuele begeerte beleef nie. Voorts het Maria sonder geboortepyne geboorte gegee, want geboortepyne hang saam met God se straf op Eva se ongehoorsaamheid. Dit is van die redes waarom die Katolieke Kerk so ’n hoë agting vir Maria het.
Christene wat die tradisionele dogmas aanhang, sal egter onmiddellik daarop wys dat Jesus met sy kruisdood al die negatiewe gevolge van die sondeval omgekeer het. Hy is sonder erfsonde gebore, want hy is nie op 'n normale manier verwek nie. Daar was nie ’n manlike spermsel wat ’n vroulike eiersel bevrug het nie. Jesus sterf aan die kruis en dra God se oordeel op die sondes (van Adam tot die laaste mens wat op aarde gebore gaan word). Die kruis dien as ‘t ware as die weerligafleier vir God se woede. Jesus oorwin die dood en maak so die straf ongedaan. Hy staan op uit die graf en triomfeer oor die dood. Wie sy verlossing aanvaar, staan nie meer onder God se oordeel nie. Hulle word deur die Gees vernuwe om nuwe mense te wees. Al die “nuwe mense” behoort deel van die Kerk te wees. Die Kerk is “te vroeg vir die hemel en te laat vir die aarde” (Theron 1978:97). Die nuwe moet nog finaal aanbreek, daarom is Christene en die Kerk nie perfek nie en sien ons nog nie die nuwe skepping nie. Eers met die terugkeer van Jesus sal hy alles nuut maak. Daarom sing Afrikaanssprekende Christene van die gereformeerde tradisie: “Ek sien ’n nuwe hemel kom, ’n aarde nuut en vry” (Lied 602 in Liedboek van die Kerk).
4 Redding en dankbaarheid
Die tradisionele Christelike mensbeskouing (in sy gereformeerde baadjie) gaan egter verder. Dit beklemtoon dat diegene wat aanvaar dat Jesus namens hulle God se straf aan die kruis gedra het, uit dankbaarheid volgens God se wil behoort te leef. Wat is God se wil? Dat ons Hom moet liefhê en ons naaste soos onsself. Dit word duideliker uitgespel in die Tiengebooie (Eks 20 & Deut 5). Johan Heyns stel dit soos volg: “En die pelgrimerende mens deur die hede op weg na die toekoms — wat doen hy eintlik op sy weg? Hy rig tekens op van die naderende toekoms, d.w.s. tekens van die koninkryk wat in sy heerlikheid en ryke volheid verwesenlik word” (1974:177).
Uit die Tiengebooie leer Christene om hulle ouers te gehoorsaam en hulle dus aan gesag te onderwerp. Skoolkinders moet onderwysers en die skoolhoof respekteer en erken as gesagdraers oor hulle. Christene behoort as die burgers van ’n land nie aan revolusies deel te neem nie, maar die owerheid te erken as gesagdraer van God. Vroue moet hulle in gehoorsaamheid aan hulle mans onderwerp, want sê die Bybel: “Adam is eerste gemaak en daarna Eva”.
Wanneer ’n mens oor alles wat hier geskryf is nadink, kan jy nie anders nie as om te vra: Watter effek het hierdie mensbeskouing op jouself en ander Christene gehad, en watter effek het dit steeds op Christene wat die tradisionele sienings huldig? Ek lys ’n paar vrae:
Bibliografie
Den Heyer, C J 2003. Van Jezus naar christendom: de ontwikkleing van teks tot dogma. Zoetermeer: Meinema.
Freeman C 2003. The Closing of the Western Mind: The Rise of Faith and the Fall of Reason. London: Pimlico.
Heyns, J A 1974. Die Mens: Bybelse en Buite-Bybelse Mensbeskouinge. Bloemfontein: Sacum.
Hunt, J 2004. Bringing God Back to Earth: Confessions of a Christian Publisher. Winchester: O Books.
Labuschagne, C J 1994. Zin en onzin over God: Een kritische beschouwing van gangbare godsvoorstellingen. Zoetermeer: Boekencentrum.
Liedboek van die Kerk 2001. Wellington: NG Kerk-Uitgewers.
Spangenberg, I J J 2007. Can a major religion change? Reading Genesis 1–3 in the Twenty-First Century. Old Testament Essays (verskyn later vanjaar).
Theron, P F 1978. Die ekklesia as kosmies-eskatologiese teken. Pretoria: NG Kerkboekhandel.
Theron, P F 2005. In sonde ontvang en gebore, sê wie? Ned Geref Teol Tydskrif 46, 576–586