INLEIDING EN AGTERGROND (2009)
Die Nuwe Hervorming Netwerk is vanjaar vier jaar oud. Dit het met ’n klein groepie entoesiastiese mense gedurende 2004 begin. Een van die redes vir die stigting was om aan mense wat ontuis geraak het binne die Christelike kerke en nie meer die tradisionele belydenisse en leerstellings kan beaam nie, ’n tuiste te bied. Hier kan hulle met ander mense wat dieselfde ongemak beleef, sosialiseer en gesprek voer. ’n Tweede rede vir die stigting was om ’n beweging tot stand te bring wat oop religieuse gesprek bevorder. Baie mense het gevoel dat ons pas uit ’n era kom waar bevraagtekening nie as ’n deug beskou is nie. Mense wat kritiese vrae gevra het, hetsy oor die politieke beleid van die NP-regering, hetsy oor die tradisionele Christelike belydenisse en leerstellings, is gewoonlik gemarginaliseer en dikwels geostraseer.
Die uitvoerende komitee (UK) van die Netwerk het sedert 2005 tweeweeklikse gespreksbyeenkomste in Midrand geloods om hierdie primêre doelstellings na te streef. Die gespreksbyeenkomste het aanvanklik op die Christelike belydenisse en leerstellings gefokus. Die lede en ander belangstellendes wou duidelikheid bekom oor waar die Christelike belydenisse en leerstellings vandaan kom en waarom hulle nie as ewige waarhede beskou kan word nie. Pieter van der Merwe het hierdie proses vergelyk met die afskil van ’n ui. Die leerstellings is een vir een onder die vergrootglas geplaas om duidelikheid te kry waar dit vandaan kom, waarom dit geformuleer is en watter rol gesagsfigure (soos die keiser en die biskoppe) gespeel het. Die afskilproses het nie sonder wroeging en pyn gepaard gegaan nie. Na agtien maande se “afskil”, het mense hulleself begin afvra: “Maar wat bly nou oor?” “Sit ons aan die einde van die dag net met ’n handvol skille, of het daar ’n kern behoue gebly waarmee ons iets kan doen?”
Sonder dat dit vooraf so beplan is, het die NHN ’n nuwe fase betree. In die eerste fase is die Christelike leerstellings een vir een gedekonstrueer. Hulle is omgedop en uitgedop. Die UK en die bywoners van die Midrandgeleenthede het skielik voor ’n nuwe uitdaging te staan gekom: “Wat kom in die plek van die ui as dit totaal afgeskil is?” Anders gestel: “Wat kom in die plek van die Christelike belydenisse en leerstellings as dit uiteindelik geweeg en te lig bevind is?”
Hierdie fase van dekonstruksie het begin oorgaan in een van konstruksie en rekonstruksie. Die vraag waarvoor die NHN te staan gekom het, kan ook só geformuleer word: “Aan die hand van watter verhaal (of verhale) kan ons nou leef?” As die tradisionele Christelike meesterverhaal van sondeval – verlossing – eindoordeel nie meer as ’n eietydse onderbou vir mense se eie lewensverhale kan dien nie, watter ander verhaal (of verhale) kan wel?
Die behoefte het dus begin groei om nuut na te dink oor die sin van die lewe toe lede begin vra het na ’n verhaal of verhale aan die hand waarvan hulle weer sin aan hulle lewens kan gee. ’n Soektog na ’n nuwe spiritualiteit het as ’t ware ontstaan. Kort voor lank het die besef tot lede deurgedring dat dit nie net ’n proses van soek en vind is nie, maar ook van maak. In die woorde van professor Hans van Beinum: “Die mens maak en vind tegelykertyd.” In die proses van soeke na sin, maak ons uiteindelik sin. Voorts het dit duidelik geword dat hierdie proses ’n voortgaande proses is. Diegene wat afskeid geneem het van die Christelike meesterverhaal, sal nooit weer ’n voltooide en afgeronde meesterverhaal hê nie. Ons kennis laat so iets nie meer toe nie. Ons is in die een-en-twintigste eeu uitgelewer aan ’n durende proses van interpretasie en herinterpretasie, vertelling en hervertelling, want kennis neem eksponensieel toe.
Ondertussen het ons ook besef dat ons tans reeds ’n verhaal begin ontwikkel het wat ons kan help met die soek en skep van sin, én wat ons kan begin neerpen. Die skematiese uiteensetting hieronder is die eerste stap in ’n poging om aan te dui wat die inhoud van ons verhaal kan wees.
Danksy moderne tegnologie kan hierdie verhaal egter opgeskryf word deur almal wat hiertoe wil bydra! Daarom is die genoemde aspekte in Wiki-formaat uiteengesit en is elk van die aspekte dus met ’n skakel aangedui. Deur op die aspek van u keuse te klik, kry u geleentheid om u bydrae te maak. Daarbenewens is ook voorsiening gemaak dat u verdere aspekte van ons verhaal sal kan byvoeg.
U is hartlik welkom om hieraan deel te neem.