Pieter F Craffert
31 Julie 2005
1 Inleidende opmerkings
Ek wil begin deur 'n aantal algemene opmerkinge te maak.
Eerstens, laat ons eerlik wees, die enigste rede waarom ons oor iets soos die siel praat, is omdat dit 'n prominente plek inneem in ons spreke oor dood en na-dood of moet ek sê na-lewe. Daarbuite het ons weinig te sê oor of ons te bekommer oor ons “siele”. Dit beteken nie dat dit nie belangrik is nie — om die waarheid te sê, ek dink dit is van die allergrootste belang dat ons oor dood (en lewe) nadink en praat.
Tweedens, wie oor die siel praat, praat eintlik oor menswees. Wat maak 'n mens 'n mens en hoe is ons mense.
Derdens, ek gaan die woord siel gebruik, maar soos dit mettergaan duidelik sal word, is dit vir my 'n wisselterm vir self of bewussyn . Hierdie woorde beskryf dieselfde konseptuele area (ek probeer die term entiteit vermy). Hoe ons dit ookal verwoord, menslike spreke oor die siel, die self of bewussyn is nie verskillende opinies of konsepsies van dieselfde ding nie. Die geskiedenis van die konsep is voldoende bewys dat dit telkens nuwe inhoud kry.
Vierdens, hierdie is nie 'n volledige of sistematiese bespreking van die betrokke onderwerp nie, maar slegs 'n aantal gesigspunte te wille van die gesprek. Dit is soos ek dit nou sien en is deeglik bewus dat hierdie een area is waaroor ek nog baie moet nadink.
Laastens, ongelukkig, of gelukkig, is daar nêrens 'n eenduidige beskrywing van wat 'n siel is nie. Ek sal dus die vraag wat die siel is, so saam-saam met die vraag, waar kom dit vandaan, hanteer.
2 Die Cartiaanse dualisme
Ons allerdaagse soort wysheid is dat dit 'n onsterflike entiteit is wat êrens misterieus in die liggaam gesetel is en sodra jy doodgaan, jou liggaam verlaat. Hierdie is 'n oorblyfsel van Descartes (17eeu) se siening van die mens. Hy maak 'n onderskeid tussen natuurlike dinge, dit wat in sy tyd met die opkoms van wetenskaplike denke, met die wetenskap ondersoek kon word (aan die hand van fisiese meganismes), en bonatuurlike dinge — dinge soos siel en gees wat nie materieël was en geensins vir hulle bestaan afhanklik was van die bestaan van 'n liggaam of materie nie. Dus, materiële (natuurlike) versus nie-materiële (bonatuurlike) entiteite vorm die basis van die Cartesiaanse dualisme. Wat nie met die wetenskap bestudeer kan word nie, is nie natuurlik nie. 'n Siel is dus 'n nie-materiële of bonatuurlike entiteit wat onafhanklik van 'n liggaam (materie) kan bestaan. Hy sou dus sê jy het 'n siel!
Die Cartiaanse siel-liggaam dualisme (of mind-body in Engels) het verrrykende implikasies gehad vir talle wetenskappe en veral vir die mediese wetenskap. Dit is grondliggend aan die idee dat siekte 'n defek van 'n orgaan of liggaamlike of biologiese sisteem is en met chirurgie of kragtige chemiese middels herstel of beveg kan word.
3 Die bybelse siening van die siel
Die onmiddelike vraag is of dit nie maar presies is wat die bybelse tekste sê nie. Nee, hierdie siening was heel anders as die van antieke mense. Ek kan nie aandag gee aan die komplekse eenheidsiening van menswees wat byvoorbeeld in die Ou Testament aanwesig is nie. Ook nie aan die veskeidenheid sieninge van na-lewe opsies wat hulle voorgestaan het nie (soos voortlewe saam met die voorouers, die idee van 'n liggaamlike herstel en van 'n onsterflike siel).
Laat ek begin met 'n algemene opmerking: wat ons wel weet is dat nie een van die outeurs wat dikwels oor 'n siel skryf (soos Plato en Paulus) enigsins 'n koherente of samehangende siening daarvan gehad het nie. Paulus praat byvoorbeeld slegs een keer van 'n liggaam-siel-gees driedeling (1Th 5:13). Elders werk hy telkens met dualismes: liggaam-siel; liggaam-gees, vlees-gees; verstand-vlees). Dus, een konklusie wat redelik maklik verdedig kan word is dat geen samehangende voorstelling en ook geen beskrywing of verduideliking van wat dit was, bestaan het nie. Paulus deel gewoon die sieninge van sy tyd daaroor, of beter nog, gebruik die konsepte van sy tyd vir sy eie doeleindes. En duidelik was dit 'n konseptuele entiteit en nie 'n ontologiese entiteit nie — hulle praat oor 'n iets wat werklik is, maar nie noodwendig konkreet nie.
Antieke mense, Paulus ingesluit, het wel 'n dualistiese siening van die mens gehad, maar dit was anders as Descartes s'n. Om hulle siening van die siel te begryp, moet jy iets van hulle fisieka of siening van waaruit dinge bestaan, begryp. Alles wat bestaan was opgemaak uit vier elemente: lug (pneuma) aarde, water en vuur. Alle dinge, insluitende verskillende bestaansvorme, was gesien as variasies van hierdie samestellings en nie 'n dichotomie met nie-materie nie. Dinge soos 'n siel was dus wel nie-liggaamlik (non-corporeal) maar nie nie-materieel nie, want alles wat bestaan was verskillende konfigurasies van hierdie elemente — dus materieël in hulle siening daarvan.
Ek gaan na slegs drie fasette van hulle voorstellings van die mens verwys wat ons insig gee in watse soort ding die mens was en wat hulle dualisme van liggaam en siel sou kon beteken het.
Die eerste is sieninge oor die menslike liggaam. Bybelse mense het soos die mense van hulle tyd (soos ons ook) unieke en tydgebonde sieninge van die menslike liggaam gehad. Ek het reeds genoem dat dit uit dieselfde elemente saamgestel is as alle ander objekte en in verskillende konfigurasies daarvan kon manifesteer. Verder was die liggaam ook poreus of penetreerbaar. Dit het uit talle kanale bestaan wat deur verskillende entiteite gevul kon word soos reuke of smake. Geeste of entiteite kon 'n liggaam vul en daarom moes allerhande voorsorgmaatreël getref word teen bose geeste. Mens sien dit byvoorbeeld in begrafnisgebruike waar alle liggaamsopeninge onmiddelik toegemaak word sodat bose geeste nie kon inkom en in die talle beskermingsmaatreëls teen die bose oog. Die beginsel word baie goed geïllustreer deur fisiognomie. Daar is 'n verstommende aantal tekste uit die antieke wêreld oor fisiognomie of die oortuiging dat iemand se karakter manifesteer in sy of haar liggaam. Die oppervlakte van die liggaam is slegs 'n uitdrukking van kragte binne die liggaam.
Die talle voorbeelde in die evangelies waar Jesus vra, wie sê die mense is ek, is ter sprake. Sy Galilese afkoms en die konnotasies (kan iets goed uit Galilea kom) reflekteer die siening dat jy is wat jou omgewingskragte jou maak. Maar terug by wie Jesus was? Die antwoorde is ewe rustig: Elia, Jeremia, een van die profete of Johannes die Doper wat onthoof is. Iemand anders se gees kon 'n liggaam betrek en dus jou identiteit (siel) bepaal. Bose geeste kon dieselfde doen.
Ek het na die bose oog verwys. Dit was die oortuiging dat iemand deur 'n sekere soort blik iets aan jou kon doen of in jou liggaam kon plaas. Kyk was nie die ervaring van lig en beelde wat op 'n retina reflekteer nie, maar konkrete dinge wat uit jou oog beweeg.
Die tweede is die interaksie tussen liggaamlike ervaringe en hulle ontologie oor die liggaam. Ek het reeds die verskynsel van besetenheid genoem: die feit dat 'n liggaam deur ander entiteite oorgeneem of beset kan word. Daarnaas, kon sekere manifestasies van die siel of liggaam ook op hemelreise gaan. Maw allerhande vorme van buite liggaamlike ervaringe is beskryf en beleef as manifestasies van die siel en liggaam konfigurasies. Dink aan Paulus se beskrywing in 2 Kor 12: hy weet nie eens of dit in die liggaam of daarbuite was wat hy na die 3e hemel gereis het nie. Daar is letterlik honderde soortgelyke verhale of eerder, beskrywings van ervaringe uit daardie tyd. Dan verwys ek nie eens na die soortgelyke ervaringe wat in die evangelies beskryf word nie: tydens Jesus se doop, Petrus in Handelinge, ens. Vanuit hierdie soort ervaringe het hulle afgelei dat die self in verskillende konfigurasies kon bestaan en allerhande soorte dinge kon doen, soos om op reis te gaan.
My punt is hierdie ervaringe het bygedra om hulle te informeer oor wat 'n siel is en wat dit kan doen.
Die derde is wat ek wil noem die astronomiese kompleks. Die fisieka van die dag het gesê dat alle dinge van dieselfde komponente gemaak is. Een van die interessantste manifestasies hiervan is die konneksie wat hulle gemaak het tussen die siel en die sterre. Eerstens, sterre en planete was nie klippe of gasbolle nie, maar lewende nie-menslike wesens. Die literatuur oor die astronomie is oorweldigend wat daarop dui dat saam met ander nie-menslike wesens (soos engele en demone) was die hemel liggame (hoor julle die oorsprong van ons woord) wesens wat die verloop van lewe op aarde gerig en bepaal het. Tweedens, sterre, siele en engele was nie net van dieselfde substansie nie (verskillende konfigurasies) maar verwant — pneuma -agtig ( gees-agtig ). Daarom kon sommige mense na hulle dood sterre word. Beter gestel: sommige siele transformeer na sterre — wesens, net in 'n ander gedaante. Die bekendste Israelitiese figure met wie dit gebeur het is Moses en Henog. Sommige regverdiges sal skyn soos die sterre. Dit is die idee wat ook in Dan 12:3 uitgedruk word. Beide Moses en Henog verskyn dikwels aan Israelitiese mense en word met die sterre en engele verbind.
Bybelse mense sou die Cartiaanse onderskeid nie eens verstaan het nie, want hulle basiese utigangspunt is dat verskillende manifestasies van die liggaam (as vlees of as siel en soms selfs as liggaam, siel en gees) was telkens verskillende konfigurasies van dieselfde stof of elemente. Nie een hiervan was bo-natuurlik nie. 'n Geestelike liggaam was binne hulle voorstelling so natuurlik soos 'n vleeslike liggaam, en dieselfde geld 'n siel as gemanifesteer as 'n hemelliggaam. Hulle het inderdaad 'n liggaam-siel dualisme gehad maar nog die liggaam en nog die siel was soortgelyk aan Descartes s'n en, myns insiens, ver verwyderd van enige moderne voorstelling daarvan.
4 Moderne sieninge van die siel, self of bewussyn
Laat ek hierdie deel begin met 'n opmerking oor verskillende soorte kennis: ervaringskennis en refleksiewe kennis.
Ons voorouers het vanuit hulle ervaring van sonsopkoms en ondergange afgelei dat die son om die aarde draai. Ons weet egter vandag baie goed dat relatief tot die aarde, die son nêrens heen beweeg nie en dus nie kan opkom of ondergaan nie. Die aarde draai om sy eie as en daarom lyk dit asof die son sak of opkom. Ons moet dus eintlik van die mooi aarde draai praat wat ons gisteraand in die bosveld gesien het. Iets meer as ervaringskennis was nodig om tot die insigte te kom: sommige van ons voorouers het dit gekoop met wat bekend is as refleksiewe of wetenskaplike kennis. Refleksiewe denke en astrofisieka gee ons vandag 'n veel beter insig in die sterrekunde.
In die inleiding het ek gesê dat die algemene siening in ons wêreld oor die siel is dat dit iets is wat êrens in jou liggaam gesetel is en onafhanklik daarvan kan voortbestaan. Dus, jy is jou liggaam met 'n siel daarin. 'n Variasie hierop is die siening dat jy is jou siel wat net tydelik oor 'n liggaam beskik. Jy het nie 'n siel nie, maar is jou siel wat liggaamlike ervaringe het. Hierdie onderskeid asof mens 'n siel het, kom so natuurlik in ons taal voor soos sonsondergang. Ons gebruik dit sonder om regtig te dink wat ons sê. Hoe maklik sê onsnie iets soos ek het vir myself gesê of ek het by myself gedink nie. Is hierdie self met wie jy gepraat het nou êrens hier binne ander as wie jy nou eintlik is.
Myns insiens is beide hierdie sieninge (jy is jou liggaam met 'n siel daarin en jy is jou siel wat liggaamlike ervaringe het ), net soos ons voorouers s'n oor die siel, die produk van ervaringsdenke en kennis. Ons algemene taal oor die siel is soos sonsopkoms-spreke vasgevang in die idee van jy het 'n siel en jou siel kan plekke heen gaan (soos na jou dood). Talle ander ervaringe, soos naby-dood ervaringe en buite-liggaamlike ervaringe speel 'n groot rol in hedendaagse voostellings.
Soos die beste insigte oor sterrekunde vandag nie verkry word van ervaringe van sonsondergange nie, net so is die beste insigte oor die self of bewussyn (of siel as jy wil), nie af te lei uit die veelvoud van liggaamlike ervaringe wat mense beskryf nie. Al hierdie ervaringe is deel van die data wat ons moet gebruik om sin te maak van wat menswees konstitueer en waarom sulke ervaringe deel van ons menslike liggaamlike werklikheid is.
Die beste insigte oor die astrofisieka word verkry deur wat ek breedweg refleksiewe denke wil noem. Dit is daardie vermoeë om verder as ervaringskennis te gaan om ons in te lig oor hoe dinge werk. Om die waarheid te sê, refleksiewe kennis help ons juis om ook ons ervaringe van sonsondergange in perspektief te plaas — dit is wonderlik om te ervaar, maar dit bly net aarde-draaie.
Die soort denke wat vir my die meeste sin maak vandag is om te sê jy het nie 'n siel, bewussyn of self nie, maar jy is jou self. As ek 'n ander metafoor kan gebruik: jy het 'n siel soos jy 'n geheue het en nie soos jy 'n hand of 'n gesig het nie. Jy het 'n geheue in die sin dat jy ook jou geheue is. Anders gestel, sonder jou geheue is jy nie, maar jy het slegs 'n geheue as jy 'n liggaam het. Sonder 'n liggaam het jy geen bewussyn nie — elkeen van die sogenaamde buiteliggaamlike ervaringe wat gebruik word 'n bewussyn los van die liggaam te postuleer, het weer 'n liggaam nodig om die ervaringe te kommunikeer. Jy is jou geheue en jy is jou siel of bewussyn omdat jy 'n liggaam het.
Hierdie is so 'n komplekse veld van studie en navorsing dat ek slegs enkele voorbeelde gaan noem van die argumente waaraan ek waarde heg. Hierdie sieinge word verkry nie deur na geïsoleerde verskynsels soos verhale oor buite-liggaamlike ervaringe en naby-dood ervaringe te kyk nie, maar vanuit 'n komplekse stel insigte wat bekend staan onder die noemer van bewussynstudies (consciousness studies). Dit is navorsing wat oor 'n aantal wetenskaplike grense beweeg en sluit in: evolusionêre biologie, neurowetenskappe, filosofie ensovoorts.
Die eerste voorbeeld kom uit die neorologie. Ironies genoeg is dit nogal navorsing oor sekere breindisfunksies wat goed illustreer hoedat jy jou liggaam is. Ek dink die basiese aanname van die populêre siening is dat elke mens net een siel het. Een mens, een siel! Gesplete brein persone (as gevolg van beserings of deur operasies om byvoorbeeld erge epilepsie te behandel) waar die korpus callosum of weefsels wat die twee breinhemissfere verbind geknip word, tree op asof hulle twee siele of bewussyns het. Ek oorvereenvoudig 'n komplekse stel navorsing om uit te kom by die punt dat jou self onlosmaaklik aan jou liggaam gekoppel is.
Die verskynsel van blindsight (mense wie se visuele organe sodanig beskadig is dat hulle nie kan sien nie, kan tog informasie oor 'n ligkol bekom) bevestig dat die self of bewussyn nie 'n iets in jou is nie, maar eerder die koalisie van gedistribueerde agente. Die self is nie in die brein nie, dit is ook nie die brein nie, dit is eerder die somtotaal van jou totale mensewees: kultureel, biologies en psigies.
Nog 'n voorbeeld: jy kan jou sin van selfbewussyn en beliggaming verloor in eensame opsluiting of byvoorbeeld in eksperimente waar jy in water geplaas word en geen kontak met ander mense of die omgewing het nie. Wie jy is, jou self, is afhanklik van hierdie kontakte en stimuli. Terloops, indien jou regterkantse parietale korteks deur 'n elektrode gestimuleer word, ervaar jy hierdie tydelike dissosiasie van jou liggaam — asof jy buite jou liggaam sfeef en vanaf die plafon na jouself kan kyk.
Hierdie voorbeelde wys dat bewussyn nie iets in die liggaam is of iets wat jy het nie, maar eerder die bestaanswyse van sekere komplekse biologiese sisteme. Bewussyn is deel van die nie-ruimtelike kenmerke van hierdie soort biologiese werklikhede. Net soos dit nie sin maak om te vra of die suurstof of waterstof in water die nattigheid veroorsaak nie, maak dit nie sin om die self of bewussyn te probeer isoleer uit die liggaam nie. Liggame soos mense s'n het wat ons kan noem 'n emerging property wat bewussyn genoem kan word.
Vir my is een van die toetse vir sprake van 'n siel of bewussyn as 'n entiteit van enige aard (as iets in die liggaam of as ewige entiteit wat net 'n liggaam beset) die volgende vraag: watter hoeveelheid elemente van die huidige werklikheid moet jy dupliseer voordat so 'n siel of bewussyn sigself kan wees. Sê nou maar daar is so iets, wat het jy nodig vir so 'n siel om jou siel te wees? Hoeveel kultuur en ander siele wat jou taal praat? Hoeveel fasette van die fisiese wêreld soos atmosfeer vir spraak, beweging, klank, ens? Dink net na wat is alles nodig om jou nou op hierdie moment jou te maak. Jou geskiedenis en geheue, jou konteks, familie, beroep. Naas Botha (en elkeen van ons) is wat hy gedoen het en as hy dit nie gedoen het nie, was hy nie dieselfde persoon (self) nie. Sonder hierdie liggaam is jy nie jý nie.
Dit maak daarom vir my sin om van so iets soos die dialogiese self te praat: dit sê die self is nie 'n essensie wat onveranderd van geboorte tot dood dieselfde bly nie. Jy as kind, student, getroude, geskeide, werker, bestuurder is telkens iemand anders. Watter self is nou die ewige? Watter self gaan eendag hemel toe, die onvergenoegde ou man van 80 of die sportheld van 20 of 'n perfekte self (wat sou dit wees?). Die self word telkens gekonstitueer in verhouding met ander mense en kontekste. Ek ís nie sonder my liggaam nie.
Ek sou in kort wou sê: My liggaam is 'n self-bewuste liggaam, 'n liggaam wat homself kan be-dink. Dus, ek is my liggaam wat homself dink — ek is nie 'n iets-wat-dink binne my liggaam nie. Ek is gewoon my denkende liggaam wat bewus is van sy/haar denke.
5 Sielspraak en etiek
Een van my inleidende opmerke was dat daar 'n verband is tussen spreke oor 'n siel en die dood. As daar iets van waar in is wat ek probeer aantoon het dat spreke oor die siel nie verskillende beskrywings is van dieselfde identifiseerbare objek nie, maar verskillende pogings om uit te druk wat menswees is, is die eintlike vraag nie, wat is 'n siel nie. Of, het 'n mens 'n siel nie. Dan is die vraag: wat is die implikasies van elkeen van die maniere van spreke oor die siel of die self vir die manier hoe ons met mekaar omgaan en eties optree in die wêreld?
As jy sê 'n mens het 'n siel, wat beteken dit vir die lewe. As jy soos ek geneig is om te sê, jy is jou liggaam, watter implikasies het dit vir jou siening van lewe en dood?
Die afgelope tyd het ek myself dikwels afgevra of ons populêre sieninge van 'n siel nie bydra tot die disrespek vir lewe om ons nie. Vier seuns slaan vir Vrydagaand pret 'n hawelose man dood in 'n park in Moreletta Park. Vir vyftig duisend rand skiet 'n pastoor se seun 'n jong vrou dood. By die begrafnis van 'n jong meisie wat deur 'n dronk man doodgery is, troos mense mekaar met die woorde sy (haar siel) is nou by Jesus waar ons almal eintlik wil wees.
Dra ons siel-sieninge by tot die totale disrespek vir lewe in ons samelewing? Het hierdie voorvalle enige iets te doen met ons algemene siening van 'n ewige siel en 'n nuttelose liggaam?
Kom ons draai dit om. Sal ons hierdie soort van dinge nog doen (lewe neem) as ons besef jou siel of bewussyn, jou jy, is onlosmaaklik aan jou liggaam en konteks gebind.