Noem die naam Darwin en by die meeste mense (diegene wat kan lees, in elk geval) is daar onmiddellike reaksie. Bitter min mense wat ek al teëgekom het staan neutraal teenoor dié man en sy beroemde boek On the Origin of Species.
Baie gelowiges verdoem die man tot die verste, warmste hellevuur denkbaar en ander maak graag flou grappies oor die mens wat kamtig "van ape afstam". (Natuurlik 'n onwaarheid, Darwin het nooit beweer dat mense van ape afstam nie. Net dat ons 'n gemeenskaplike voorouer deel.)
Nietemin, dis mos deel van die menslike toestand: as iets jou bangmaak, spot jy daarmee; en as iets jou bedreig en jy is bang dis dalk wáár, verdoem jy die boodskapper.
En dan is daar ook diegene wat hom amper as 'n soort kultus-figuur aanhang, wat te verstane is as mens in gedagte hou dat hy 'n radikale denkskuif veroorsaak het by almal wat sonder enige agendas belangstel in hoe die skepping tot hiertoe ontwikkel het.
Één ding is seker, Charles Darwin gryp steeds die meeste denkende mense se verbeelding aan. Sy werk het behels dat hy eintlik met spirituele sowel as intellektuele vuur gespeel het en dit verklaar dalk hoekom hy so lank gedraai het met die publikasie van sy bevindings oor natuurlike seleksie en die veranderende organismes oor die eeue heen.
Die rolprent Creation wat tans hier te sien is, stel die man en die agtergrond waarteen hy geleef het aan ons voor.
As jy 'n suiwer wetenskaplike belangstelling in Darwin se werk het, gaan dié fliek jou dalk teleurstel. Buiten vir besondere natuurskoon en pragtige kamera-skote daarvan en hier en daar 'n verwysing na sy wetenskaplike bevindings, handel die storie hoofsaaklik oor die Darwin-gesin se lief en leed. Darem teen die agtergrond van sy lewenstaak, maar nogtans 'n tipe gesinsdrama.
Daarenteen, as jy Darwin as 'n satanskind sien wat net die horinkies en swart vlerke kortkom, gaan jy ook teleurgesteld wees. Hierdie Darwin is alte menslik, met die menslike broosheid wat die meeste van ons ervaar. Hy het lief, hy kry seer, hy is onseker -- ook oor die publikasie van sy teorieë -- en hy ly aan swak gesondheid.
Dan ook beleef hy die één ding wat enige ouer sekerlik die seerste maak: die dood van 'n geliefde kind.
In sy diepste wese was Charles Darwin 'n toegewyde gesinsman. Hy het met sy niggie, Emma, getrou en hulle het vinnig 'n flukse gesinnetjie gehad. Dit was 'n besonder gelukkige huwelik, geseënd met 'n span kinders waarvan Annie die uitverkorene was. Sy het haar pa soos 'n skaduwee gevolg en was van kleins af geïnteresseerd in sy werk.
Die enigste moontlike geskil tussen Charles en Emma was die feit dat sy 'n toegewyde Christen was terwyl hy al hoe verder van die tradisionele geloof beweeg het. Tog bly hul liefde staande, hoewel sy hom in 'n stadium waarsku dat hy nie die oorlog teen God kan wen nie. Sy is ook opreg, hartroerend, bekommerd daaroor dat hulle nie die "ewigheid" saam gaan deurbring nie.
Paul Bettany vertolk die rol van Darwin en slaag daarin om hom vir gehore lewendig te maak. Bettany is in werklikheid ook getroud met Jennifer Connelly, die aktrise wat op 'n stil, sterk manier Emma aan die gehoor voorstel. Die fliek slaag juis vanweë dié twee se uitstekende samespel daarin om netjiese lyne tussen die emosionele konflik en die intellektuele een te trek.
Charles Darwin word in die vorm van Bettany 'n baie meer dinamiese ofskoon ietwat verwarde karakter as wat mens ooit sou kon aflei uit die bebaarde, statige man op die foto's wat ons almal ken.
Die fliek speel in die geskiedkundige Down House af, die huis in Kent, Brittanje, wat vandag nog bestaan en 'n bekende toeriste-aantreklikheid is.
Gaan kyk gerus as jy nog nie dié prent gesien het nie. Dit het meer pluspunte as foute en is totaal en al die moeite werd om te sien, veral as jy in geskiedenis en menslikheid belangstel.