Die idees wat mense het aangaande die bestaan of nie-bestaan van God en idees wat hulle het oor die eienskappe van God, wissel vanaf
diegene wie glo dat God persoonlike eienskappe het soortgelyk aan dié van 'n mens, tot diegene wie glo dat enige geloof in 'n
Absolute Godheid gebaseer is op wensdenkery. Daar is ook diegene wie glo dat 'n Godheid wél bestaan, maar dat die Godheid liewer beskou
kan word as 'n onpersoonlike Absolute wat nie voldoende in menslike terme omskryf kan word nie. Die geloof in God as Persoon, word deur
veral die drie groot monoteïstiese godsdienste, nl. Judaïsme, die Christendom en Islam, aangehang en staan bekend as teïsme. Die
ontkenning van die bestaan van enige Persoonlike of Onpersoonlike Godheid staan bekend as ateïsme, terwyl panenteïsme die geloof in 'n
onpersoonlike Absolute Godheid verteenwoordig. Ondersteuners van die onderskeie godsbeskouinge verskil van mekaar wat betref die
ontstaan van die Kosmos, die lewe na die dood en die geldigheid van norme en waardes.
Die geloof in 'n Persoonlike God
Drie van die belangrikste godsdienste in die wêreld, naamlik Judaïsme, die Christendom en Islam, beskou God as 'n ewige Wese Wie die
Skepper is van die ganse Kosmos. Hierdie Persoonlike God het gewoonlik die volgende karaktereienskappe:
• Hy is Heilig en het gevolglik geen sondes of swakhede nie.
• Hy is regverdig en al Sy besluite is reg en gebasseer op die Waarheid.
• Hy is Almagtig en soewerein.
• Hy is Alwetend.
• Hy is onsterflik.
• Hy is transendent, wat beteken dat Hy buite tyd en ruimte bestaan en dat Hy nie verander kan word deur enige aardse magte of
enigiets anders binne Sy Skepping nie.
• Hy is 'n Persoonlike God en het gevolglik 'n Wil en 'n Persoonlikheid.
Wanneer mens egter sekere verse in die Ou Testament lees, is daar opdragte wat na bewering deur die Israeliete se god Jahwe gegee is,
wat as "wreed" beskou kan word. Vergelyk byvoorbeeld die volgende verse:
• 1 Samuel 15:3 “… maar jy moet om die lewe bring man sowel as vrou, kind en suigling, bees en kleinvee, kameel en esel.”
• Josua 6:17 “Maar die stad met al wat daarin is, moet ‘n banoffer aan die Here wees; net Ragab , die hoer, mag lewe, sy en
almal wat by haar in die huis is,…”
Christen-fundamentaliste beweer dikwels dat Jahwe (die Israeliete se god van die Ou Testamentiese tye) goeie redes gehad het om opdrag
te gee dat bevolkings uitgewis word, omdat die volksmoorde kwansuis gebeur het ten einde die "jong" volk Israel te beskerm teen die
heidense nasies. Op hierdie manier word enige "die doel heilig die middele" opdragte en dade van Jahwe goedgepraat en word Hy as 'n Wese
voorgehou Wie buite enige menslike begrippe van Goed en Kwaad bestaan.
Ateïste se argumente teen die bestaan van ‘n Persoonlike Skepper God
Een van die belangrikste argumente wat ateïste gebruik om aan te toon dat die idee van 'n persoonlike God nie sin maak nie, staan bekend
as die "probleem van die bestaan van Boosheid" (Engels: the problem of evil). Die argument kan as volg opgesom word:
1. God bestaan.
2. God is Alwys, Almagtig en Perfek Goed.
3. 'n Perfekte Goeie Wese sou alle Boosheid wil verhoed.
4. 'n Alwyse Wese weet van alle maniere waarop Booshede kan ontstaan in die wêreld.
5. 'n Almagtige Wese weet alles omtrent die ontstaan van Boosheid en het die mag om die ontstaan van sodanige Boosheid te verhoed.
6. 'n Almagtige Wese wie alles weet omtrent die ontstaan van Boosheid en wie die mag het om die ontstaan van sodanige Boosheid te
verhoed, en wie dit wil verhoed, sou die bestaan van sodanige Boosheid nie toelaat nie.
7. Indien daar ‘n Almagtige, Alwyse en Perfekte Goeie Wese bestaan, sou geen Boosheid bestaan het nie.
8. Boosheid bestaan ('n logiese teenstrydigheid)
Die geloof in ‘n onpersoonlike Godheid
Panenteïste en andere wie glo dat die Godheid ónpersoonlik is, gebruik die term "die Absolute" om te verwys na die konsep van die "bestaan"
van 'n Onvoorwaardelike Werklikheid wat beperkte, voorwaardelike alledaagse werklikhede transendeer. Die term "God" verwys gewoonlik na 'n
Godheid wat persoonlike eienskappe het, en daarom word die term "die Absolute" dikwels deur mense gebruik wie nie in die bestaan van 'n
persoonlike God glo nie. Die Absolute word ook gesien as die Bron waaruit alles onstaan het.
Die ontstaan van die Kosmos
Teïste glo dat die Kosmos "vanuit niks" geskep is deur ‘n persoonlike God wie verhewe is bo Sy Skepping. Ateïste glo daarenteen dat
daar geen onderliggende subjektiewe of ontologiese Goddelike werklikheid bestaan waaruit die Kosmos ontstaan het nie. Baie van hulle glo dat
die lewe op aarde per toeval ontstaan het. Sekere oosterse gelowe soos o.a. Hindoes glo in die konsep van voortvloeiing (Engels: Emanation).
Volgens hulle het alle dinge in die Kosmos voortgevloei uit die eerste Werklikheid of perfekte Godheid. Die Godheid is gevolglik ook in 'n
mindere of meerdere mate teenwoordig "binne-in" in alle skepsels.
Verskillende idees oor die lewe na die dood
Baie teïste glo dat sekere mense verlos kan word deur die genade van God, terwyl andere bestem is vir die Ewige Verdoemenis. Die Ewige Lewe
of Verlossing kan nie beërwe word alleenlik deur mense se eie toedoen nie, en is afhanklik van die besluite van God. God red slegs mense
wie aan sekere vereistes voldoen. Materialistiese ateïste ontken die bestaan van enige deel van ‘n mens wat die dood van die fisiese liggaam
kan oorleef. Baie Hindoes beskou verlossing of moksha egter as die onpersoonlike eenwording van die indiwidu met die Absolute Godheid. Hierdie
eenwording kan egter slegs bereik word deur menslike pogings en behels gewoonlik meditasie tegnieke, die verkryging van wysheid, rituele
en/of goeie dade. Die menslike bewussyn ewolueer deur middel van geboortes in nuwe liggame na die afsterwe van die ou fisiese liggame
(reïnkarnasie). Sommige Hindoes glo dat die menslike siel bly voortbestaan na die dood van die fisiese liggaam, terwyl baie Boeddhiste die
bestaan van die onsterflike siel ontken.
Godsdienstige dogmas en die geldigheid van norme en waardes
Christen- en Moslem-fundamentaliste en ortodokse Judaïste, glo dat hulle objektiewe norme en waardes deur 'n persoonlike God d.m.v. heilige
geskrifte aan hulle verskaf is. Hul God straf diegene wie nie die veronderstelde Godgegewe waardes respekteer en eerbiedig nie. Sekere
beweerde Godgegewe wette, soos bv. die Tien Gebooie, word as absoluut en onveranderbaar beskou. Materialistiese humaniste en postmoderniste glo dat daar geen Absolute of Goddelike objektiewe realiteite bestaan nie. Alle waardes is subjektief en relatief en verander afhangende van menslike behoeftes. Die méns is die maatstaf van alle dinge. Panenteïste beskou die Absolute as dié objektiewe Waarheid buite die mens, terwyl ander menslike waardes feilbaar, relatief en subjektief is. Volgens hulle is mense se norme en waardes nie absoluut nie en verander gedurig afhangende van tradisies en omstandighede.
Gevolgtrekkings
Die geloof in 'n persoonlike Skepper God is vir baie mense nie meer aanvaarbaar nie, en baie van hulle is ontnugter deur die maniere waarop
sodanige geloof deur magtige belangegroepe gebruik is om hul onderdane te mislei en te onderdruk. Die geloof in 'n Vader figuur Wie die
Kosmos geskep het en Wie ‘n Plan het met elke mens se lewe, veroorsaak ‘n gevoel van tevredenheid by baie gelowige godsdienstige mense. Vir
ander mense is veral die karaktereienskappe van 'n Persoonlike God, soos beskryf in die Ou Testament, onaanvaarbaar en gevolglik verwerp
hulle enige "spirituele" idees aangaande ‘n Godheid en die voortbestaan van die menslike bewussyn na die dood van die fisiese liggaam. In
plaas daarvan om te glo dat die meeste mense bestem is vir die Hel, of dat daar geen lewe na die dood is nie, glo baie panenteïste egter in
die moontlikheid van die uiteindelike eenwording van alle skepsels met die Absolute.
Re: Idees aangaande die hiernamaals en die eienskappe van God
Dagsê
Ek reken die rede hiervoor mag dalk gevind word in die sosiale bestel wat geheers het ten tye van die neerpen van die geskrifte wat uiteindelik in die Ou Testament vervat is: Dit was 'n patriargale bestel, miskien gebaseer op die man se fisiese voorsprong in 'n tyd toe oorlewing baie moeliker was as nou. Mens kan dit verder voer: waarom sou God volgens Genesis Abel se offer aanvaar en nie Kain s'n nie? Die Bybel swyg oor die rede, maar as ons in ag neem dat die klimaat en omgewing bygedra het daartoe dat die mense hoofsaaklik pastoraliste was, kan die argument seker gemaak word dat God Abel se offer aanvaar het omdat hy 'n herder was, en nie omdat Abel enigsens 'n beter mens as Kain was of sy offer van 'n beter gehalte was as kain s'n nie. Dit synde die geval, moet ons dan erken dat Kain miskien met reg gegrief was oor die onregverdige behandeling!
Jul kommentaar?
Anoniem
Re: Idees aangaande die hiernamaals en die eienskappe van God
Beste Loot,
Die wetenskaplike beskouings van mense het nog altyd 'n bepalende invloed op hul godsdienstige idees gehad, soos bv. sommige van die
Bybelskrywers se geloof in 'n drieverdieping heelal en die geloof dat die son om die aarde wentel aangesien God na bewering die son 'n ruk
lank tot stilstand gebring het. Dit is net jammer dat die wetenskaplike getuienis vir die ewolusionêre ontwikkeling van spesies nog nie
'n noemenswaardige verskil gemaak het aan ons kreasionistiese vriende se wêreldbeeld en letterlike interpretasie van die Genesisverhale nie!
Groete,
Jaco Steyn
Re: Idees aangaande die hiernamaals en die eienskappe van God
Ja, Jaco, die hele ding gaan maar oor die feit dat hulle nie geweet het dat vrouens ook eierstokke het nie. Hulle kon dit nie sien nie. Mans is verhewe beskou omdat hul die saad draers is. Hulle bepaal die bloedlyn. Slegs hul nageslag tel, vrouens moet hul vanne aanneem. Daar word verwys na 'n stoetbul en nie 'n stoetkoei nie, ens.
Dit verklaar ook iets rondom Maria se wind bestuiwing. Arme vrouens, jy bedoel seker 200,000 jr. Dit is darem jammer dat daar nog steeds godsdiens en ander groepe is wat neer kyk op vrouens.
Gte
Loot
Re: Idees aangaande die hiernamaals en die eienskappe van God
Loot,
Twee van die algemene frases in die ou Hebreeuse Bybel wat na God verwys as manlik, is vayomer Elohim en vayomer YHWH – "en God sê". Die
werkwoord vayomer (hy sê) is manlik, en nié vroulik (vatomer) nie. Al drie ekumeniese belydenisskrifte (die Geloofsbelydenis van Athanasius,
die Apostoliese Geloofsbelydenis en die Geloofsbelydenis van Nicéa) verwys na God die Vader as eerste Persoon van die Drie-Eenheid.
Die Nuwe Testament, indien dit letterlik geïnterpreteer word, verwys na die Heilige Gees as manlik in Johannes 14 tot 16, terwyl Jesus na
bewering as 'n man geïnkarneer het.
Al drie Persone van die tradisionele Christene se Drie-Eenheid word dus as manlik voorgestel deur sekere Bybelverse. Die Israeliete se
gemeenskap was méér patriargaal as byvoorbeeld die ou heidense Indo-Europese gemeenskappe, en dit is heel waarskynlik die hoofrede vir die
verwysings na Jahwe en Elohim as manlik. Ons is bewus van Paulus se vooroordele teenoor die vroulike geslag, en ek hoef sekerlik nie verder
uit te brei oor die kerke se diskriminasie teenoor vroue die afgelope tweeduisend jaar nie!
Groete,
Jaco Steyn
Re: Idees aangaande die hiernamaals en die eienskappe van God
Dag Jaco en vriende
Jaco, terwyl ons op hierdie onderwerp is, wil jy of iemand nie ook kommetaar lewer op die volgende: Waarom word God as 'n manlike karakter uitgebeeld?
Gte
Loot