Nico Smith
Ek het dr. Nico Smith as dosent in Sendingwetenskap in 1974 op Stellenbosch leer ken. Dit was my eerste jaar in die teologie. Baie van ons het van sy lesingstyl gehou. Hy was minder formeel as die ander dosente en het soms al wandelende deur die klas sy insigte en wyshede met ons gedeel. Een so ’n wysheid wat my bygebly het, was dat ’n mens nie wetties in jou godsdiensbeoefening moet wees nie. “Julle kan maar julle stiltetyd hou terwyl julle soggens fiets ry Kweekskool toe,” het hy gesê. Dit was vir my ’n vrymakende stukkie wysheid. Ek was op daardie stadium ’n vroom student, maar ek was nie wetties nie. Ek het nie daagliks “stiltetyd” gehou en ook nie gereeld gebid nie. Ek het selfs getwyfel of ek geskik was om predikant te word.
’n Ander stukkie wysheid wat ek kan onthou, is die keer toe hy na aanleiding van die Duitse woord “Aufgeräumt” gepraat het. Volgens hom het die woord ’n dubbele betekenis: (1) om iets op te ruim (soos ’n huis of ’n vertrek), en (2) om vrolik (of tewel “opgeruimd”) te wees. “Jesus het nie slegs die wêreld kom opruim van die bose nie, maar mense ook vrolik kom maak,” het hy ons meegedeel. Ook dít was vir my wonderlike nuus alhoewel ek later geleer het dat die soort omgang met taal foutief was.
Maar toe kom die tweede jaar teologie en dr. Nico Smith daag nie getrou vir sy lesings op nie. Ons het begin wonder wat aangaan. Die handvol lesings wat hy wel waargeneem het, het dieselfde inhoud as die vorige jaar gehad. Daar was nie werklik iets nuuts wat hy ons geleer het nie. Van ons het reeds die vorige jaar via die teologiese “skindernuus” verneem dat hy ’n Broederbonder was en dat hy bo prof. David Bosch (’n nie-Broederbonder) verkies is om sendingwetenskap aan die Kweekskool te kom doseer. In sy onlangse boek "Die Afrikaner Broederbond: Belewinge van die binnekant" (2009) erken hy dit in soveel woorde. Ek het egter in die vroeë tagtigerjare, na die lees van dr. A.H. Lückhoff se boek "Cottesloe" (1978), alles moontlik oor die Afrikaner Broederbond te wete probeer kom. Ek het elke moontlike boek daaroor gelees — en daar was op daardie stadium heelwat daaroor te lese. Ek het ontdek dat byna al my teologie-dosente op Stellenbosch aan die Broederbond behoort het en dat dit ook van die dosente aan die Teologiese Fakulteit aan die UP gegeld het. Om die waarheid te sê, byna al die NG Kerkleiers van daardie jare was lede van die Afrikaner Broederbond.
Ek het dr. Nico Smith se weersin in die Broederbond verstaan, maar het tog gewonder of hy nie die perd holrug ry nie. Ek wou selfs ’n keer aan hom skryf en hom aanraai om liefs ’n boek daaroor te skryf as om gedurigdeur briewe na koerante te skryf. Hy het toe wel ’n boek geskryf, maar ek het dit as ’n teleurstelling beleef. Hy het my niks nuuts meegedeel nie — alhoewel hy dit as ’n eertydse binnestander geskryf het.
Ek het wel een keer ’n brief aan hom geskryf en hom meegedeel dat hy van al my teologie-dosente op Stellenbosch, die enigste een was wat soos Jürgen Moltmann kan vertel van ’n verandering wat hy ondergaan het. Ek het die brief geskryf na die lees van die boek "How I Have Changed: Reflections on thirty years of theology" (1997). Hy het my brief waardeer, teruggeskryf en gevra of ek fotostate van die betrokke artikel aan hom kan stuur. Ek het dit gedoen en skielik onthou hoe ek as eerstejaar teologiestudent ’n keer ’n mondeling by hom aan huis moes gaan aflê het. Ek het ietwat te vroeg vir die afspraak opgedaag en is na sy studeerkamer gewys. Terwyl ek daar vir my mede-studente en vir my dosent sit en wag het, het ek na sy boekery gestaar en ek kon die versoeking nie weerstaan om ’n boek van een van die rakke te haal en daarin te blaai nie. Wat sou ek ontdek? Die boek was duidelik gelees. Dit was onderstreep!
Vir baie mense was Nico Smith slegs maar ’n lawaaimaker, maar hy was tog op hoogte van ontwikkelinge in die teologie. Die verskoning wat hy verlede jaar tydens die bekendstelling van my boek "Jesus van Nasaret" (2009) aan my en my medestudente gebied het, het my onkant betrap. Hy het erken dat hulle as dosente ons teologies nie goed toegerus het nie. Die teologiese opleiding van die sewentigerjare op Stellenbosch was inderdaad nie diepgaande nie. Ek het na die bekendstelling aan my vrou gesê dat ek sy verskoning luider moes aanvaar het. Om “ekskuus” te kan sê, getuig van moed, opregtheid en volwassenheid. By al sy foute het Nico Smith iets daarvan gedurende sy lewe openbaar.
Sakkie Spangenberg
Re: Dr. Nico Smith
Sakkie
Jou opmerkings is insiggewend en versterk maar net my persoonlike mening dat die "konneksies en loyaaliteite " van sommige teoloe (en ander geestlikes buite die Chrislike verwysingsraamwerk) inderwerklik hul eie spiritualiteit en die persone wat na hul opkyk onwetend ondermyn. Dis net jammer dat hulle so laat (gewoonlik wanneer hul salaris nie meer in gedrang is nie) met die nuwe openhartigheid na vore kom. Gewoonlik is dat dan te laat om die skade reg te stel.
Selfs oom Angus is doodstil oor sekere ongerymdhede in die land. So wie bluf nou eintlik vir wie aan die einde van die dag?
Groetnis uit die Kaap.
Jozua