Izak J.J. Spangenberg

2005

Izak (Sakkie) Spangenberg is in 1951 in Benoni in die ou Transvaal gebore en het op vierjarige ouderdom saam met sy ouers verhuis na Germiston waar hy uiteindelik sy matriek aan die Hoërskool Goudrif in 1969 voltooi het. Na 'n jaar verpligte militêre diensplig (1970) is hy na die Universiteit van Stellenbosch waar hy van 1971-1978 studeer het. Hy het 'n BA, 'n Hons BA (Semitiese Tale), 'n MA (Semitiese Tale), 'n BTh en 'n Lisensiaat in Teologie op Stellenbosch voltooi. Hy is in 1979 aangestel as lektor in Bybelkunde aan die Randse Afrikaanse Universiteit in Johannesburg. Tydens daardie jare het hy sy DTh in Ou Testament aan Unisa onder die promoterskap van professor Jimmie Loader behaal. In 1987 is hy aangestel as senior lektor by Unisa en in 1995 bevorder tot medeprofessor in die vak Ou Testament. Hy is tans departementshoof van Ou Testament aan Unisa.

Hy spesialiseer in die uitleg van die Bybel, die wysheids- en apokaliptiese literatuur van die Ou Testament (Spreuke, Job, Prediker en Daniël), die geskiedenis van die Tweede Tempeltydperk (515 vC - 70 nC) asook in die navorsingsgeskiedenis van die vak Ou Testament. Hy stel belang in die navorsing rondom die Sinoptiese evangelies (Matteus, Markus en Lukas) en die verhouding tussen die Christelike godsdiens en ander godsdienste en lees graag oor hierdie onderwerpe.

Hy het vier boeke op sy kerfstof en het ook deelgeneem aan die skryf van verskeie ander boeke waarvan hy nie die redakteur is nie. Voorts het hy vyf en twintig wetenskaplike artikels in verskeie internasionale vaktydskrifte gepubliseer asook 'n handvol artikels in populêre tydskrifte en koerante. Hy was al 'n paar keer oorsee ter wille van sy vak en om kongresse by te woon.

Unisa het in 1999 die Kanseliersprys vir navorsing in die Fakulteit Teologie en Godsdienswetenskap aan hom toegeken.

Hy dien tans op die godsdienspaneel van die oggendblad Beeld en hou daarvan om teologie vir die markplein te skryf. Wanneer hy met vakansie is of sommer net ontspan, bestudeer hy voëls en hulle gedrag.

Hy is getroud met Dina van Aardt en hulle het twee seuns Werner en Ulrich.