Welkom!

Die webbladsy van die Nuwe Hervorming Netwerk is ’n ruimte waar mense toon hoe hulle die nuwere inligting oor die heelal, die aarde en lewe op aarde integreer met die nuwere inligting oor die Bybel, Jesus van Nasaret, die Christelike godsdiens en ander godsdienste. Kortliks gestel — dis ’n ruimte vir mense wat nie sku is om oor hulle soeke na sin te praat nie. Ons aanvaar dat ons almal pelgrims is wat besig is om ons eie lewensreis te voltooi. Pelgrims word dikwels gedwing om by ’n oase aan te doen om asem te skep, hulle dors te les en ook ’n gesprek of twee aan te knoop voordat hulle die reis voortsit. Hierdie webbladsy is bedoel om so ’n oase te wees.

Ons Fokus op die LEWE

 

Die ontstaan van die NHN kan tot ’n groot mate teruggevoer word na die dekonstruksie van die tradisionele kerklike dogmas. Die afgelope 5 jaar het die fokus egter verskuif na die moontlikhede wat rekonstruksie vir post-moderne gelowiges inhou.

 

Ons Waardes

Ons aanvaar dat wanneer ons oor die goddelike praat, ons na die onbegryplike misterie van die lewe verwys wat ons onder andere in Jesus van Nasaret leer ken. Ons koester die beste van ons erfgoed in onder andere die Bybel, ons Christelike en ander spirituele tradisies. Dieselfde geld vir ons nalatenskap op die gebied van musiek, kuns, letterkunde en wetenskap. Ons maak nie aanspraak op ewige waarhede nie en neem die huidige wêreldbeeld ernstig op. 

Ons Visie

Ons visualiseer 'n nuwe era waar inligting vrylik kan vloei sonder vrees vir marginalisering, verkettering, of vervolging. Elke mens, man, vrou of kind, behoort in staat te wees om in positiewe verhoudings tot hulleself, hulle medemense, hulle omgewing en die goddelike te kan leef. Ons streef na 'n kultuur wat bevorderlik is vir ware selfverwesenliking.

Ons Missie

Die Netwerk wil 'n ruimte vir oop religieuse gesprek verskaf. In hierdie spirituele ruimte kan nuwe gedeelde waardes ontwikkel word, en lewensin en betekenis aan die orde kom. Hierdie ruimte verskaf 'n spirituele en sosiale tuiste vir mense wat hulle met vrye religieuse denke identifiseer — veral uit die perspektief dat alle godsdienste en gelowe kultuurprodukte is.

Ons Doelstellings

In ooreenstemming met ons visie en missie, en gelei deur ons waardes, verenig die takke en lede van Die Netwerk om doelstellings soos die volgende na te streef: Oop Religieuse Gesprek om deur oop gesprek mense te ondersteun om vrede te hê met hulleself, akkommoderend met ander mense saam te leef, en verantwoordelik met hulle omgewing om te gaan.